Something different on your bolsters

Wil jy self 'n mes maak?

Geskryf deur Herman Jonker soos gepubliseer in die Hunter/Jagter tydskrif, Oktober 2009, p12 - 15.

Enigeen wat vaardige hande en ‘n oog vir ‘n mooi mes het, het seker al gewonder wat dit verg om staal tot sulke fyn afgewerkte soepel kurwes te vorm. Party het al probeer en ander wou, maar het gestuit voor vrae of probleme. Die goeie nuus is dat dit nou makliker as ooit is vir Jan Jagter en sy mede-lemliefhebbers om self ‘n mes te maak. Die kuns is nie meer die sonderlinge werk van enkele vakmanne nie, dit het ‘n toeganklike stokperdjie geraak.

In hoofsaak is daar twee maniere om ‘n mes uit staal te vorm: Deur die metaal te smee tot die verlangde vorm, of deur materiaal weg te slyp tot die regte afmetings bereik word.

Eersgenoemde is die gebied van die lemsmede, manne wat eers met vuur en hamer werk voordat hulle ‘n lem finaal afwerk. (‘n Klompie van hulle het ‘n eie belangegroep hier in SA onder die vaandel Southern African Bladesmiths Association. Sien www.sabladesmith.org).

Verreweg die meeste mesmakers verkies egter om ‘n slypwiel die werk te laat doen. In die breë beskou is dit ‘n heel eenvoudige proses: Neem ‘n stuk staal van die regte dikte, sny die vorm van die mes daaruit, slyp dit dunner waar nodig, sit ‘n handvatsel daarop vas, en siedaar; ‘n mes. Redelik maklik ja, maar vir die nuweling wag daar ‘n paar pendorings in die proses.

Eerstens is daar die keuse van materiaal. Die ideale staal moenie maklik krap, buig, breek of roes nie en moet ‘n skerp snykant kan hou, tog moet dit steeds werkbaar genoeg wees om geslyp en geboor te word. Hiervoor word ‘n tipe staal gebruik wat sag genoeg is om te bewerk, maar agterna verhard kan word deur ‘n temperproses. So ‘n metaal bevat spesifieke verhoudings van die elemente koolstof, chroom, nikkel, vanadium en mangaan.

Vindingryke selfdoeners het al items soos ou vyle, saaglemme en die hulsels van rollaers vir die maak van messe ingespan. Die metaal word sag gemaak deur dit tot ‘n hoë temperatuur te verhit en stadig af te koel, en dan agterna weer harder gemaak deur dit te verhit en in koue olie te dompel. Met doelspesifieke tipes staal deesdae plaaslik beskikbaar, is dit egter moontlik om uit die staanspoor die regte materiaal vir ‘n puik lem te bekom.

Daar is natuurlik ook die kwessie van ontwerp. Elkeen met ‘n mes het gewoonlik iets hieroor te sê, tot hy die dag self met ‘n potlood en ‘n stuk kaal staal voor hom staan. Vaste lem of vou? (Lg. is heelwat moeiliker om te maak.) Wat presies is die mes se doel en funksie? Hieruit vloei immers vorm, grootte en vereiste sterkte. Watter konstruksiemetode gaan gebruik word, watter lemprofiel? Daar is in werklikheid ‘n hele paar tegniese aspekte wat oorweeg moet word voor daardie potloodlyne getrek kan word.

Dan nog die keuse van afwerkings en materiale, waar smaak ‘n rol speel, maar aandag ook gegee moet word aan die eienskappe van die materiaal. Van ons inheemse hardehoute soos tambotie en hardekool maak byvoorbeeld pragtige hewwe, maar sagte en ligkleurige houtsoorte - hoewel mooi - is nie geskik nie. Horing, ivoor en been kan gebruik word, solank die digtheid en vorm daarvan voldoende is. Sintetiese materiale soos Micarta of koolstofvesellaminaat is gewoonlik die sterkste en stabielste keuse.

Die mes begin fisies gestalte kry as sy buitelyne uit ‘n stuk staal gesny word met ‘n bandsaag of ‘n snymasjien. Hierna moet dit met groot presisie dunner geskuur word tot die lem sy verlangde, simmetriese deursnitprofiel bereik. Dit kan natuurlik met handvyle en hope geduld gedoen word, maar die aangewese masjien, veral waar konkawe vlakke geslyp moet word, is ‘n bandskuurder. So ‘n masjien moet verkieslik vibrasievrye wiele van verskillende groottes hê, asook ‘n meganisme wat dit maklik maak om skuurbande te wissel.

Om ‘n stuk onsimpatieke staal tot vloeiende kurwes en perfekte konkawe vlakke te vorm is ‘n baie delikate operasie, maar dit is ‘n vaardigheid wat aangeleer kan word. Die heel maklikste is om een van die kursusse by te woon wat deesdae aangebied word. Hier word jy nie alleen touwys gemaak in die geheime van konkaaf slyp nie, maar deur die hele proses van mesmaak gelei.

Self al gelouter deur ‘n paar primitiewe DIY mesmaakpogings wat nie veel meer as skerp teleurstelling voortgebring het nie, het ek gaan kyk hoe dinge gedoen word by so ‘n kursus.

Die Herbst Mesmaakakademie in die noorde van Pretoria word bedryf deur pa en seun Gawie en Thinus Herbst. Beide is bekroonde lede van die SA Mesmakersgilde en hou hulle voltyds besig met messe maak, klasgee, en die verskaffing van masjiene en toerusting aan die mesmaakbedryf. Hier kan die aspirant mesmaker sy tande en sy tegniek slyp onder ‘n wakende oog en ‘n leidende hand.

Beginners kan kies tussen ‘n basiese kursus vir vastelem messe of een vir knipmesse. As hulle eers een van hierdie bemeester het, kan hulle inskryf vir die meer gevorderde knipmeskursus. ‘n Kursus duur twee dae, gewoonlik ‘n Vrydag en Saterdag, en kos tans R1400 per persoon, wat kursusmateriaal en middagetes insluit.

Volgens die Herbst span het ongeveer 1200 aspirant mesmakers al hierdie werkswinkels bygewoon. Die basiese vastelemkursus is verreweg die gewildste, met deelnemers wat kom uit die geledere van afgetredenes, pa’s-en-seuns, selfdoeners, stokperdjiemanne, kunstenaars en selfs maatskappygroepe op ‘n spanbou. Net vyf persone word op ‘n keer aanvaar want elke student maak self ‘n eie mes gedurende die kursus en dit verg baie persoonlike toesig van die instrukteurs.

Met die intrap is dit duidelik dat die Herbsts gesout is in aanbieding. Elke student kry ‘n lywige handleiding, dan word daar eers klasgegee in basiese aspekte soos materiale, gereedskap, veiligheid en mesontwerp. Hierna kry elkeen sy werkstukke waarop hy sy lem se patroon uitmerk, en dan word daar na die masjiene beweeg.

Wees gewaarsku: Dis hier, voor die bandskuurder, waar ‘n voornemende mesmaker se glinsterende drome verskiet soos sardientjies voor ‘n skeurtandhaai. Dis ‘n vryhand proses, met net oog/hand koördinasie en driedimensionele denke as riglyne en geen ankerpunt of vaste rus nie. Maklik is dit nie. Alles gaan om gevoel en beheer, letterlik met jou vingerpunte.

Skielik besef mens hoe onvergewend staal is, hoe kritiek elke hoek en houding van jou hande, en hoe finaal is die byt van daardie grintbedekte band wat meedoënloos oor sy wiel draf.

Die twee instrukteurs wat raadgee en maar altyd oor ‘n skouer loer, hou egter die duiwel se vurk van jou mes af en ‘n lem begin spoedig vorm aanneem. Die eerste proeflopie is wel nie naasteby perfek nie, maar met die tweede stuk staal gaan dit heelwat beter. Links-regs op die band, diekant-daaikant. Daar word versigtig en met groot konsentrasie geslyp. En sowaar: ‘n sierlike, welgevormde lem verskyn uit die vaal stuk staal!

Op hierdie stadium kruip die gogga van genoegdoening die eerste keer onder jou kraag in. Dit jeuk. Jy voel sommer hier kom ‘n ding wat gaan byt.

Heeldag gaan dit so: Stuk-stuk teorie en kennis en demonstrasie, dan weer terug na die werkstuk. Die lem word gepoleer, die bolsterblokkies kry beslag, fyn gaatjies word geboor en pennetjies word gepas. Dis noukeurige werk – ware vakmanskap.

Teen dag twee is die lem reeds oornag verhard en daar kan begin word met aanmekaarsit. Die helftes van die handvatsel word uitgesoek, gepas en afgewerk. Deurgaans moet daar gelet word op vorm, simmetrie en noupassendheid. Dit verg noukeurigheid en soms ‘n dosis geduld ook, maar die mes begin vorm aanneem en die materiale kry lewe onder die fluisterende poleerwiel.

Amper te gou is die wenpaal daar. Jy druk vir oulaas jou stempel op die werk af deur jou naam op die skitterblink lem te ets met ‘n chemiese proses wat lig as aktiveerder gebruik. Dan nog net die finale skerpmaak, en dan is die vrug van twee dae se toewyding uiteindelik klaar.

Daar lê hy, die hef verleidelik in jou palm: Jou eie, selfgemaakte mes. So mooi dat jy skaars kan glo dis deur jou eie twee hande geskep. Daar’s lewe in die koue staal. Skitterblink, vlymskerp en persoonlik, met selfs jou naam daarop. Dis meer as gereedskap hierdie – dis kuns eerder as mes. Hierdie gaan ‘n erfstuk raak.

Teen hierdie tyd het die gogga sy tande al diep in jou slagaar geslaan en jy voel die loom giffies van verslawing deur jou spoel.

Daar is mos darem plek vir ‘n slypmasjien in die garage, dink jy. Jy moet net eers van daai klomp duiktoerusting in die hoek ontslae raak. En tyd? Ja wat, jy kan mos maar bedank uit die bestuurskomitee en jou rugbykaartjies weggee. Dis immers klein opofferinge daai vir iemand wat bestem is om die grootste mesmaker in die geskiedenis van die heelal te word!

Meer inligting by www.herbst.co.za of 082 254 8016. Die webtuiste van die SA Mesmakersgilde by www.kgsa.co.za is ook ‘n besoek werd.

©Herman Jonker

Popular Posts